Sunday, March 1, 2009

Naweek 47

Hierdie week het dit weer gereen. Een nag het dit lekker gereen, en die volgende dag was heeldag bewolk so die water kon lekker intrek. Ons gras is egter maar nogsteeds meestal dood maar sommige plante het bietjie opgetel na die reen. Vrydag was dit ook weer 36 grade maar die naweek is weer koel en bewolk maar ons het nog nie reen hier by ons huis gekry nie.

Kyk net hierdie 3-jarige se kunswerk - dis 'n familie portret. Sy geniet dit deesdae baie meer om te teken en sy teken al hoe beter.


Dinsdag het ons van die persente oopgemaak wat in die trek van Suid Afrika af gekom het. Baie dankie oom Johan en tannie Analia vir die gogga-huisies!



Ons het dadelik begin goggas soek...


Donderdag het Marlize en Elmarie koek gebak.


Vrydag oggend het Marlize en Elmarie koek versier.




Vrydag het die trampolien gekom - in die oggend terwyl Hannes by die skool was. Elmarie was so opgewonde sy wou sommer dadelik die ding begin aanmekaarsit, toe sny Marlize maar solank van die bokse oop sodat dit lyk of daar vordering is. Elmarie het sommer dadelik solank vir my die mat oopgesit onder die afdak.

Ek het Donderdag nag gewerk so ek was Vrydag net na middagete weer terug by die huis, toe bou ek en Elmarie vinnig trampolien terwyl Marlize vir Hannes by die skool gaan haal het. Ons het ook vir die eerste keer maatjies by die huis gehad - Marlize het van die mammas oorgenooi waarmee sy elke dag gesels as sy vir Hannes aflaai of gaan haal by die skool. Toe Hannes-hulle by die huis kom was ek besig om die laaste springs in te haak en hulle kon nie wag dat ek klaarmaak dat hulle almal 'n beurt kan kry op die trampolien nie. Maar ek het eerste gespring... ;-)

Die kinders geniet die trampolien verskriklik, hulle sal die hele dag daarop speel as ons hulle nie keer nie...


Hy's nogal lekker groot (10ft, net meer as 3m), hier het ons van ver af probeer afneem sodat mens kan sien hoe groot hy is. Daar is ook 'n leertjie (nie sigbaar in die foto nie) so die kinders kan self op- en afklim.


Vandag het ons die nuwe EastLink tolpad gery om by die kerk te kom, toe ry ons die vinnigste wat ons nog in Oz gery het - 100km/h! Wow, dit was lekker! En dis 'n splinternuwe pad (hy het verlede jaar eers oopgemaak). Niks tyd gespaar nie maar lekkerder gery as verlede week.

Hulle tol-hekke hier in Melbourne is elektronies met oorhoofse sensors en kameras - mens hoef nie by 'n tol-hek te stop of stadiger te ry nie. Daar is nie 'n fisiese hek nie, net die goed bo-oor die pad wat die kameras en sensors huisves. As jy nie 'n e-tag of 'n rekening by die tol maatskappy het nie neem hulle jou nommerplaat af en pos vir jou 'n rekening (dan betaal jy meer want hulle moes vir jou 'n papier pos). Mens kan selfs vooruit 'n "day pass" oor die foon of op die internet koop as jy nie 'n rekening of e-tag het nie maar jy weet jy gaan die tolpad ry (dan betaal jy nie die ekstra fooi nie), soos bv. as jy met vakansie gaan en 'n tolpad gaan ry of so.

In Albert Park is hulle al besig om voor te berei vir die Australian Grand Prix van 29 Maart en orals is advertensies op. Ons het "general admission" kaartjies vir Vrydag middag om een van die oefen rondtes en V8 supercars te kyk - dit behoort genoeg geraas te wees vir die kinders ore.

1 comment:

Lea White said...

Wow, wat 'n mooi tekening en daai koek lyk sommer lekker! En daai trampolien - wow! Lyk na groot pret.

Lea White
http://whitesinnz.blogspot.com