Vir 'n verandering het ek en die kinders bietjie koekies gebak in die nuwe blyplek. Ons het Rice Krispies koekies gemaak (dankie Ouma Ria vir die resep) en dit het nogal lekker uitgekom. Die kinders het dit geniet dat Pappa saam met hulle koekies gebak het!
Hier is bietjie fotos van die koekies bak...



Vrydag het Annelie vir Marlize en die kinders saamgevat na 'n binneshuise speelplek toe. Die plek se naam is Kids Space - soortgelyk aan Wacky Warehouse in Suid Afrika. Die kinders het hulle flou gespeel.

Gister was ons Lake Mountain toe saam Andre en Annelie en kinders, Floris en Marie, Jeanetta en kinders. Dit was nou 'n heerlike belewenis. Ons het lekker in die sneeu baljaar!
Ons het sneeu klere gehuur vir die dag - dis nogal lekker warm en waterdig. Ons het vir elkeen 'n sneeu slee (toboggan) ook gehuur.
Ons was sommer vroeg op gewees - hulle het ons al 07:00 kom oplaai. Lake Mountain is so 90 minute se ry van waar ons bly af, en dis die pragtigste omgewing waardeur ons gery het. Mens wil net al die tyd fotos neem maar deur die kar se venster wou dit nie werk nie en dis te koud om die venster oop te maak vir 'n foto!
Ons was so net na 09:00 daar en toe is daar al reeds hordes mense! Die kinders was sommer dadelik reguit na die naaste sneeu toe wat hulle gesien het, en dis sommer die wat langs die pad le waar ons gestop het. Toe laai ons alles uit die kar en vat hulle saam waar daar nog meer sneeu is. Nog meer sneeu?! Hulle was baie opgewonde om te sien hoe die hele wereld wit van die sneeu le soos wat ons nader aan die eintlike oord se sneeu kom.
Hulle kon nie wag nie - hulle was sommer dadelik op die toboggans om te ry.
Ek en Marlize het ook gery. Gelukkig is daardie pret nie net vir kinders nie! Dis net vrek uitputtend - as jy onder kom moet jy al die pad weer loop tot bo sodat jy weer kan ry, en die probleem daarmee is dat mens nie genoeg kan kry nie! As die kinders ry moet jy hulle help tot bo, en as jy self ry moet jy ook weer loop tot bo!
Daar is drie toboggan runs (plekke waar mens kan afgly) en ons het al drie gery. Dit was soveel pret, ons het net genoeg fotos geneem om te bewys ons was daar, die res van die tyd was die kamera in die sak!
Later in die middag, terwyl ons op die derde toboggan run was, het dit begin sneeu ook. Was dit nou lekker! Eers net baie fyn, maar later sommer sulke lekker groot vlokkies. Elmarie was al stokflou en het die nie so baie waardeer nie, maar Hannes kon nie genoeg kry nie! Hy't sommer in die sneeu sy toboggan gery!
Teen ongeveer 16:30 het ons ook opgepak en terug gery want ons moes van die goed wat ons gehuur het al 18:00 terug he - dit was by 'n dorpie tussen Melbourne en Lake Mountain.
Dit was een van die lekkerste dae wat ons nog hier in Oz gehad het.
Hier onder is fotos...





















































