Sunday, May 31, 2009

Naweek 60

Stil week. Winter week. Koud. Nat.

Die weervoorspelling vir die naweek was sonnig. Tot Saterdag opgedaag het en ons omtrent 10 minute son gesien het in die oggend. Vandag miskien so 15 minute. Die res van die tyd was dit net digte mis of bewolk. Dit help gelukkig vir lekker laat slaap ;-)

Gister moes ek weer tyn-ingenieur speel. Ek moes sakke vol bossies uittrek, ek weet nie waar die goed alles so skielik vandaan kom nie, dis net 'n pyn in die agterent. Letterlik. Vandag is ek seer daarvan. Die gras was klam want dit het Vrydag deur die dag en Vrydag nag gereen so ek kon nie eers van tyd tot tyd bietjie plat sit nie want dan't ek nog 'n nat broek ook. In die voorste stukkie gras (omtrent 2x6m) het ek presies 115 bossies uitgehaal - ek weet want Elmarie het my "gehelp" en sy wou he ek moes elkeen tel wat ons uithaal. Agter is 'n groter stuk gras en meer bossies. Daar het sy nie meer gehelp nie so ek het nie getel nie. Ek is seker verlede naweek was daar niks nie. En daarna het ek nog die gras gesny ook. Gelukkig het dit gouer gegaan as gewoonlik want die gras het nie so baie gegroei nie - dis darem nou al so te se winter.

Die aand was te koud om ons voete uit die huis uit te sit so ons het voor die TV geplak.

Die Super 14 finaal was tussen 1:30 en 3:30 in die oggend hier by ons, so ek het dit maar opgeneem en vanoggend gekyk. Eintlik erg om te dink dis die enigste Super 14 wedstryd wat ek hierdie jaar gesien het. Gelukkig het die Bulle goed gewen!

Vandag het ons bietjie gaan uiteet saam Andre-hulle. Die kinders kon nie wag om weer saam die maatjies te speel nie. Dit was by 'n lekker plek - Elwood Beach House Cafe. Hulle het 'n lekker groot speel area vir die kinders wat omhein is, en mens gaan by 'n sy-deur van die plek uit om daar te kom so mens voel rustig as die kinders buite is. Die kinders het almal baie lekker gespeel en darem so bietjie van hulle kos ook geeet. En ons grootmense het ook lekker gekuier. Daarna het ons net brood en melk gekoop en reguit terug huistoe gekom uit die koue uit. Die res van die dag het ons sommer net bietjie saam die kinders gespeel. Met LEGO.

Volgende naweek is lang naweek hier so ek skryf eers weer Maandag aand. Of Dinsdag...

Sunday, May 24, 2009

Naweek 59

Hierdie naweek was ons Healesville Sanctuary toe met die kinders. Dit is een van Melbourne se 3 groot dieretuine. Healesville is eintlik meer as 'n uur se ry van ons af, in 'n dorpie oos van Melbourne - ja, Healesville.



Ons het vir die eerste keer gehoor watter klank 'n Emu maak - dis 'n baie diep grom wat mens nogal ver kan hoor, al is dit nie baie hard nie.

Ons het twee geveerde vertonings gesien - Cockatoos & parrots en Birds of prey. Tydens die Cockatoos & parrots wys hulle die verskil tussen 'n Cockatoo en 'n Parrot. Vir die wat nie weet nie, 'n Cocketoo het 'n groot kuif en 'n Parrot het nie, verder lyk hulle baie dieselfde. Hulle het sommige van die mees algemene spesies wat in Oz voorkom gewys. Tydens Birds of Prey het hulle twee soorte valke, twee soorte arende en 'n uil gewys en feite oor die voels gegee. Wat die vertonings baie lekker gemaak het is dat die voels ook vry gevlieg het oor die mense se koppe ook so mens kon hulle in aksie sien. Dit was net baie moeilik om goeie aksie fotos van hulle te kry, maar hier is ons by die arena se buitekant ;-)


Na die vertoning van die Birds of Prey het 'n ou vir ons op die Didgeridoo geblaas en gedemonstreer hoe om 'n boomerang te gebruik. Toe het hy boomerangs verkoop - die soort wat werk, nie die souvenir soort nie.

In die Koala area het ons 'n mooi foto van 'n koala gekry wat rustig in die boom sit en rus. Ek dink nie mens sal sommer 'n beter foto as hierdie kry nie.

Ons het ook vir die eerste keer gehoor watter klank 'n Koala mannetjie maak - dit voel of jou oe of jou ore jou bedrieg want jy sien die klein Koala beertjie maar dit klink soos 'n massiewe vark - selfs so hard ook.

En ons het nog rooi kangeroos gesien...


En 'n "rock-wallaby". Dit is 'n beskermde spesie en daar is blykbaar minder as 1,000 van hulle oor. Hulle is nogal klein, bietjie groter as 'n haas.


Elmarie het ook bietjie "face to face" gekom met 'n Wallaby (hulle is 'n kleiner spesie Kangaroo) en dit was baie lekker vir haar:


Nog 'n Ozzie diertjie is die Wombat:


Laastens het ons ook by die Fruit Bats 'n draai gaan maak want Hannes wou sien hoe groot hulle is. Ons was in hulle hok maar kon nie lekker fotos kry nie. Die goed is nogal lelik.

Oppad na die vlermuise toe het ons verby die Dingos gestap. 'n Dingo is 'n wilde hond wat nie blaf nie maar soos 'n wolf huil. Hierdie foto het ek deur die draad geneem want een het lekker naby gestaan:


Dit was 'n lekker heel-dag uitstappie.

Tuesday, May 19, 2009

Naweek 58

Die week en naweek wat verby is, was lekker stil.

Saterdag was ons nerens heen nie, maar die middag het een van Hannes se skool maatjies (Sam) kom kuier.

Sondag was bietjie besiger - Hannes en Elmarie het by een van Hannes se maatjies (Flynn) gaan kuier in die oggend en toe het ek gery om vir Elmarie haar verjaarsdag persent te gaan koop terwyl sy nie by is nie. Dis eers in Julie maar die item was op special, 25% af. Die middag het ons by nog ander maatjies gaan kuier (Luke en Ashleigh, 'n tweeling) en die aand was ons na die Afrikaanse kerk diens toe (wat eenkeer per maand aangebied word), 'n dagreis te perd ver.

Die naweek wat kom se weer lyk lekker so behalwe vir grassny wat al nodig raak kan ons dalk ietsie lekkers inwerk.

Ons het ook nou plek bespreek vir die langnaweek in Junie (8 Junie is "Queen's Birthday") by 'n plek in Warnnambool sodat ons kan gaan walvisse kyk. Dis blykbaar so 300km wes van Melbourne, seker dan so 350km van ons af. Na 8 Junie is daar nog net 1 vakansiedag, Melbourne Cup Day, maar as die projek se planne reg loop is dit go-live week so dan sal ons seker werk. En dan is Kersfees die volgende vakansiedag.

Sunday, May 10, 2009

Naweek 57

Gelukkige Moedersdag aan al die Moeders!

Die kinders het hierdie week Vrydag geleentheid gehad om vir hulle mammas ietsie te koop by die skool vir Moedersdag. Na skool het amper al die kinders hulle persentjies probeer wegsteek vir die mammas sodat hulle eers Sondag kan sien wat dit is, maar Hannes kon nie wag om vir sy mamma te wys wat hy vir haar gekoop het nie...


Hy vertel vir haar dit maak oulike liggies en dis nogal van plastiek! Hier is die light-up-bowl in die aand met al die "romantic lights" wat hy maak:





Hannes was verskriklik in sy noppies met die persentjie wat hy vir Moedersdag vir sy mamma gekoop het.

Die kinders het ook by die skool vir die mammas allerhande oulike goed gemaak vir Moedersdag... Happy Mother's Day:


I love you mum - dis wat hy op die rekenaar gemaak het by die skool, en dis sy mamma wat koek bak, die swart deel is die tafel (graniet blad):


En 'n voucher vir hulp met huiswerk op Moedersdag maar dit het nie gebeur nie so Marlize sal hom maar bere vir volgende jaar...


Saterdag aand het ons die kinders vir die eerste keer gevat vir "adventure golf" en wat 'n avontuur was dit nie vir hulle nie! Hulle het die gaatjies waar die balletjie wegraak en op 'n ander plek weer uitkom die meeste geniet. Die baan is op 2 verdiepings. By sommige gaatjies trek die balletjie bo-oor mens se kop tot by die volgende plek en dan moet jy trappe op om die gaatjie klaar te maak, en by ander loop hy in spoortjies af dan moet jy trappe af om die gaatjie klaar te maak. Daar is ook 'n waterwiel in die baan, dan slaan jy die balletjie een kant op, dan rol hy oor en rol anderkant in 'n paadjie af tot by die gaatjie. Dit was nou vet pret, veral omdat daar niemand anders was nie (koud... die baan is darem onder dak) so die kinders kon lekker speel op hulle tyd.

Eers het ons bietjie gesukkel:




Hier wag hulle op die boonste vlak vir die balletjie (oranje) om in die voortjie af te kom van waar hy van die onderste vlak af kom:


Die waterwiel (geel balletjie):


Ons het darem die balletjie in die gaatjies gekry ook:





Marlize het ook vandag 'n persentjie vir Moedersdag gekry (wat nie van die skool af kom nie) en in haar kaartjie het sy 'n "badge" gekry vir "Best Mum Ever" waarop sy ook nogal baie trots was!


Vandag het ons weer die skaapskenkel potjie gemaak. Andre en Annelie en kinders, en Floris en Marie het by ons kom eet vandag en ons het lekker gekuier en lekker geeet.

Sunday, May 3, 2009

Naweek 56

Die laaste rukkie van Mooey se kuier by ons het hy orals in die huis agter die kinders aangeloop. Tot waar die kinders by die rekenaar sit en speel het, het hy by hulle gesit... Hier sit Elmarie en speel "connect the dots" en Hannes help en Mooey sit en kyk.


In die week het Marlize vir Elmarie afgeneem waar sy vir Barbie in die kar laat rondry het... Hannes se draadkar. En al Barbie se pelle het saamgery. Hoe is daai vir 'n plan :-)


Elmarie het ook 'n "nuwe" fiets gekry. Die een wat ons vir haar in SA gekoop het net voor ons gevlieg het is nog 'n bietjie groot, en een van die maatjies wat net in die straat af bly (sy is in Hannes se klas maar Elmarie speel lekker saam met haar) het 'n nuwe fiets gekry toe bring hulle haar oue vir Elmarie want hy's 'n beter grootte vir Elmarie, haar beentjies kom makliker by. Elmarie is baie in haar skik met haar nuwe fiets. Dankie Danielle!


In die week het Hannes by die skool 'n "family portrait" gemaak, en hulle kon dit huistoe vat. Die kinders het self geteken, ingekleur, geknip, geplak en hulle name geskryf. Hannes het ook sy tweede naamkaart (wit) vol plakkers huistoe gebring (baie in sy skik) - een van die maniere waarop hulle goeie gedrag by die skool aanmoedig is met plakkers op die kinders se naamkaarte so hy was baie trots op sy tweede een wat al vol plakkers is.

Van links na regs is Hannes (in sy skoolklere), Pappa, Mamma, Elmarie (bokstertjies en al!). 

Hierdie week was ook die tweede week van die "Road Safety Programme" en die bokskarre wat hulle in die eerste kwartaal gebruik het om resies te jaag moes reggemaak word vir die padveiligheid program. Natuurlik was daar so paar modifikasies versoek, soos 'n Ferrari teken voor op, 'n nommerplaat (want hy't mos intussen 6 geword), en laaste maar nie die minste nie, veiligheids gordels! Al die modifikasies aan die kar (nuwe rooi wiele, 'n nommer 10 en weerligstraal, uitlaatpyp en agterste rooi brieklig) was Hannes se idees. Hy was so opgewonde oor die eindresultaat dat hy sommer vir Marlize gevra het om die kar af te neem ook!



Na baie gesoek na 'n geskikte oplossing vir 'n staander vir die driepootpot (want die gasbottels hier is anders as in SA) het ons hierdie naweek die eerste keer alles gehad wat nodig is om weer 'n potjie te maak. Behalwe vir die baie klein gasbottels (wat te klein is om stabiel te staan) sit almal se uitlate aan die kante so mens kan nie die goed wat ons van SA af gebring het bo indraai soos ons altyd het nie maar ek het uiteindelik iets gekry wat werk - eintlik bedoel vir 'n platbodem pot (ek het nog nie 'n driepootpot hier te koop gesien nie... kan net dink hoekom) maar die potjie staan lekker op hom.


Kyk net so 'n lekker skaapskenkel potjie!

Komplimente aan my Pa vir die wenresep - elke keer 'n treffer.