Sunday, December 14, 2008

Naweek 36

Hierdie naweek was chill-naweek. Die laaste naweek hier voor ek die familie gaan haal in Suid Afrika.

Verlede naweek het ek gaan kyk na so paar plekke om te bly vir volgende jaar, en op die ou end 'n aansoek ingesit om te huur op een van hulle. Die aansoek was toe goedgekeur en die deposito is betaal. Dit is 'n dubbelverdieping duet, 3 slaapkamer, 2.5 badkamer met studeerkamer, aparte waskamer en toesluit motorhuis. Die plek het ook "central airconditioning". Dis in 'n lekker stil straat, baie naby aan die laerskool. Ek was Saterdag weer daar om fotos te neem en afmetings te kry. Hier is fotos van die plek...

Van die straat af:


Van agter af, die erf is nogal smal (halwe erf eintlik) maar darem redelik lank - grassny behoort my nie te lank besig te hou nie:


Die oopplan leef-area onder (onder is ook 'n gaste toilet, die waskamer en die studeerkamer):


Die slaapkamers en 2 badkamers is bo, en die trappe op en die hele boonste vloer het matte (behalwe natuurlik die badkamers, dis teel vloere). Die leef-area en kombuis is bietjie kleiner as waaraan ons gewoond is maar dis groot genoeg.

Ek was ook vir die eerste keer hier:

"The South African Shop" is 'n redelike klein winkeltjie wat voedsel produkte wat in Suid Afrika vervaardig word invoer, bv. Romany Creams, ProVitas, All-Gold tamatiesous, Mrs Ball's chutney ens. Hulle het 'n online shop en twee winkels - hierdie een is in Caulfield, nie ver van die nuwe blyplek af nie. In die "shebeen" verkoop hulle onder andere Casle Lager, Klipdrift, KWV en Amarula.

Dit het die hele Vrydag en Saterdag lekker gereen in Melbourne. Hierdie naweek alleen het die staat van Victoria meer as 65mm reen gekry en dit is bo-gemiddeld vir die hele Desember maand. Hierdie foto het ek geneem oppad terug woonstel toe van die nuwe huis af:


Nog net 6 slapies... my vlug is Saterdag oggend vroeg en as die vlug op skedule afloop land ek Saterdag 20 Desember om 17:50 in Johannesburg. Ek kan nie meer wag nie.

Daar sal waarskynlik eers in Januarie weer 'n nuwe inskrywing op die blog wees.

Vir almal wat ek nie weer voor Kersfees gaan sien nie: Geseende Kersfees en Voorspoedige Nuwe Jaar!

- Johan

Sunday, December 7, 2008

Naweek 35

Hierdie naweek was bietjie kort vir my. Saterdag het ek gewerk en vandag een huis gaan kyk (ons soek mos nou weer huis). Meeste plekke is of in die week of op Saterdae oop om te gaan kyk, en altyd net vir 30 minute. Ek het ook baie wasgoed gewas want dit het ook agter geraak deur die week, en die nuwe kinder stoeltjies in die nuwe kar gesit.

Vir die wat almal gese het "ja, ons het al 'n Corolla gesien maar ons wil JOUNE sien", hier's twee fotos:



Hoop julle is nou gelukkig!

Nog net twee weke oor - oor twee weke hierdie tyd het ek al 1 slapie in Suid Afrika geslaap. Nog net 13 slapies voor ek vlieg.