Crown Entertainment Complex is 'n luukse hotel en casino met honderde eetplekke, flieks en arkade waar kinders hulleself kan besig hou. Dis een van die groot aantreklikhede in Melbourne, en sit reg oorkant die rivier van die Melbourne Akwarium. Dit is die grootste casino in Australasia. By die flieks by die Crown, net soos in Trinidad, kan jy kos koop en invat (bv. hotdog, chips & coke ens) maar in die fliek wat ek gekyk het was daar meestal net die reuk van popcorn.
Saterdag se weer was onplesierig - koud, bewolk en winderig, met ligte reën van tyd tot tyd. Ek het by die MetShop in die stad (publieke transport amptelike winkel) 'n hele paar brosjures en kaarte gekry wat baie behoort te help met verkenning op ander naweke. Terwyl ek in die stad was, het ek besluit om Queen Victoria Market te besoek en die City Circle Tram tot daar naby gevat.
So lyk die City Circle trams waarop mens verniet kan ry - hulle loop in 'n sirkel (twee rigtings) rondom die binnestad (hulle is nogal oud en omdat dit verniet is gewoonlik redelik vol ook):


Daar is nogal baie hype oor die mark maar Queen Vicotria Market is soos een massiewe vlooimark. Blykbaar is vars groente en vrugte daar baie goedkoper as in die winkels, maar Saterdag het dit vir my maar redelik dieselfde prys gelyk vir die goed wat ek al gekoop het - appels, komkommer, blaarslaai en tamaties. Daar is ook paar plekkies wat kos verkoop (pizza, hotdogs ens). Ander stalletjies in die mark is vars vleis, vis (stink nogal daar, gelukkig is die vis-deel bietjie verwyder van die res), kaas, speserye ens. Dan is daar die ander vlooimark goed soos die klere, spelgoed ens. Natuurlik kan jy daar ook lewendige hoenders koop...

Saterdag by die mark was daar live entertainment op 'n straat-hoek:

Daarna is ek Docklands toe. Docklands is die waterfront in die Victoria hawe, wes van die binnestad. Daar is meestal net restaurante, en in die middel van so 'n onplesierige dag is dit maar baie stil. Met al die eetplekke daar en die uitsig oor die hawe en die stad kan dit nogal besig wees op 'n goeie aand. Docklands is ook net oorkant die straat van die Telstra Dome - Melbourne se grootste Footy stadion. Hierdie fotos het ek by Docklands geneem:



Van Docklands af het ek 'n trem gevat na die oostekant van die stad waar Fitzroy Gardens, die stadsmeuseum en die parliment-gebou is.
Eerste aan die beurt was Fitzroy Gardens (sien ook hier vir meer). Dis 'n pragtige tuin, meer as 'n stadsblok groot met so paar geskiedkundige aantreklikhede soos Cook's Cottage en die Conservatory ("Built in 1929, the Conservatory contains an impressive variety of fine flowering plants. There are five different plant displays each year and the historic building is a popular location for garden weddings."). Terwyl ek in die park rondgeloop en fotos neem het, het ek op 3 troues afgekom. In die park is ook 'n klein speelpark met 'n swaai en glyplank vir klein kinders. Plek-plek is daar ook lekker groot oop areas waar mense saam hulle kinders bal skop en speel. Hierdie fotos het ek in die park geneem (Cook's Cottage, Conservatory en ander):




Na Fitzroy Gardens het ek paar fotos van St. Patrick's Cathedral geneem wat net oor die straat van die park is:



Reg oorkant die straat van St. Patrick's Cathedral is 'n Duitse kerkgebou ook:


'n Blok verder van die kerke af is die parlement-gebou en die stadsmuseum. Ek was nie lus om deur nog 'n museum te loop nie en het net 'n foto van buite af geneem:

Die Royal Windsor hotel waar nog 'n troupaartjie fotos geneem het:

Die parlement-gebou waar nog 2 troupaartjies fotos geneem het:


Toe het dit begin reën en dit het nie gelyk of dit gou wil ophou nie so toe vat ek 'n trem terug hotel toe en dis die einde van die dag se verkenning. Die aand was Harry Potter and the Goblet of Fire op Channel 9 toe kyk ek dit - anders as MNet en Movie Magic adverteer hulle in die fliek. Gereeld. Op al die kanale wat die hotel het wat flieks wys doen hulle dit.
Sondag was baie koud. Op die nuus wys hulle van sneeu wat iewers in die omgewing val maar ek weet nie waar dit is nie - gelukkig is dit nie in die stad self nie. Daar was ook 'n bosbrand oos van die stad wat Vrydag al begin het en Sondag eers onder beheer gebring is. Ek het die dag in die hotel deurgebring en bietjie vir die eerste keer in 'n lang tyd kans gehad (en dit gebruik) om bietjie die laptop te her-organiseer en van ou onnodige goed ontslae te raak (die hardeskyf was al naby vol en die oefening was nodig).
Die weervoorspelling vir die week vorentoe lyk net so koud en onplesierig. Ek hoop die klere wat ek gepak het hou my warm genoeg!






























