Sunday, January 25, 2009

Naweek 42

Vir die getroue lesers, jammer ek het 'n naweek gemis maar dit was bietjie dol. Op die oomblik staan die rekenaar nog op die kombuis tafel maar hy werk darem.

So nou het ek so paar weke se fotos...

Op 2 Januarie het ons mos gaan trein ry tot in Frankston en sommer daar gaan fliek by die AMC - Australian Multiplex Cinemas. Frankston voel redelik soos 'n vakansie-dorpie as mens uit die treinstasie uitkom en die eerste paar blokke loop. Ons het nie verder geloop nie so ek weet nie of die gevoel dan begin verander nie. Hier is fotos van die stasie en van ons voor die AMC:



Toe ons terug is van die treinrit wou die kinders see toe gaan, maar dit was koud en die wind het gewaai. Hulle wou nogsteeds see toe gaan...


Ons was lank by die see...


Hier is sommer nog 'n foto van die Brighton Beach Boxes:


Op 4 Januarie was ons weer see toe - die wind het nogal gewaai en ons wou nie koud kry nie, so ons was amper die enigste mense op die strand met hemde aan, die ander Ozzies is lankal gewoond aan die wind op die strand. Daar waar ons was, is die see baie vlak baie diep in, en dan word dit skielik diep, en van daar af ry die mense met hulle bote en jetski's rond. Van die strand af lyk dit nogal of hulle te naby aan die mense kom, maar as jy in die see ingaan lyk die prentjie bietjie anders:




Op 5 Januarie wou Hannes weer na die parkie toe waar die Spiderman web is (Fawkner Park):



Teen 17 Januarie het ons huis-goed al gekom en het die groot uitpak al begin - Elmarie was net te bly daar is weer gras om op te speel!


En hulle het darem een keer, net voor die intrek, die huis se gras vir ons gesny (van nou af moet ons self 'n plan maak of dit self doen):


Jippee, al ons speelgoed is ook hier!


En naby die huis is 'n parkie, en ons kan sommer met die fietse daarheen ry:


Op 24 Januarie het ons die kinders bietjie weer Luna Park toe gevat. Ons bly nou nie meer loop-afstand van die pretpark af nie, en na so paar minute se ry het Hannes gevra "hoekom vat dit dan nou so lank om daar te kom?". Ons was daar van ongeveer 6:30nm tot ongeveer 10:30nm. Ons het 'n "family day-pass" gekoop so ons kon alles waarvoor ons lank genoeg was soveel keer ry soos wat ons wou, en daardie nag was ons almal ordentlik kapoet! Hier is sommer paar fotos van die ekskursie:












Vandag was ons weer na 'n ander park toe naby die huis - King George IV Memorial Reserve - daar is 2 krieketvelde en krieket nette, 'n speelpark en tennisbane. Hannes wou bietjie krieket speel toe gaan soek ons 'n parkie waar mens met balle mag speel (in die kleiner parkies word dit nie toegelaat nie). Hannes het vir die eerste keer op 'n regte krieket pitch gespeel en dit sommer baie geniet - daar was eers een of ander honde-opleiding aan die gang maar hoe hulle klaar is kon ons oorskuif soontoe (dis een van die sement-blad tipes maar ons sal vir hom die verskil leer as hy ouer is). Elmarie het toe ook sommer lekker saam krieket gespeel...











Maandag 26 Januarie (Australia Day) is een van die 5 publieke vakansiedae wat ons het in Victoria (die ander is Paasnaweek, Kersdag en Nuwejaarsdag) en ek is nogal bly vir die ruskans.

Monday, January 12, 2009

Naweek 40

Hierdie blog is laat want ek was by die krieket. Dit was Sondag aand ons tyd, en ek was eers omtrent 11:30nm weer tuis na die prag-vertoning van die ou wat vir die ander span 'bat'. Ons het cool sitplekke gehad - direk onder die telbord waar die girls halftyd 'n vertoning gehou het, op die tweede vlak - net agter square van een van die paaltjies. Die stuk het sy eie kroeg en kos-kiosk en omdat die kaartjies bietjie duur was, was daar nie so baie mense nie, so geen ge-toustanery vir bier of 'n toilet nie.

Die week was die eerste week weer terug by die werk. Nou voel dit eers of ek 'n vakansie nodig het.

Vrydag middag het ons die sleutels van die nuwe huis gekry, maar nog niks meubels nie. Dit was al deur Kwarantyn ge-'clear' maar nog nie deur doeane nie. Hulle wou eers kyk na die "firearm replicas" wat ons verklaar het (kinders se speelgoed) maar dit was darem okay en ons het vandadg gehoor die meubels word Woensdag afgelewer.

Ek het te laat begin reel vir die aansluiting van water, krag en gas by die nuwe huis so dit was eers vandag gedoen, en die gas more, so nou het ons al sleutels, water en krag maar nog nie gas en meubels nie. Gelukkig moet ons eers Sondag 18 Januarie uit die woonstel wees en die meubels kom Woensdag al. Ons het ook al bietjie van ons goedjies aangery huistoe wat ons hier in die woonstel gehad het (nie veel nie, bietjie van die klere en goed in die grocery-kas).

Saterdag was ons bietjie in die winkels. Die huis het nogal weird kaste is die kamers - net hangplek, niks rakke nie, so ons het 'n oplossing gaan soek daarvoor en op die ou end besluit om sommer kort boekrak-tipe goed te koop wat binne-in die kaste pas, dan kan die kinders hulle eie klere bykom ook sonder sukkel. En dis ook darem iets wat mens later weer op 'n ander manier kan aanwend as mens weer in 'n huis met beter kaste bly.

Die kinders is nog nie lekker gewoond daaraan dat dit eers so 8:45nm begin donker raak nie, so ons kom maar laat in die bed. Dit begin ons nou bietjie vang na amper 2 weke daarvan. Hulle kan nie verstaan dat dit al badtyd is as dit nog lig is nie. Gelukkig word dit weer op 'n tyd winter so dan kan ons dalk bietjie 'n break kry!

Sunday, January 4, 2009

Naweek 39

Veilig terug in Oz.

In die paar dae terug by die huis in Suid Afrika het baie gebeur: ons het die laaste kar verkoop, Kersfees gefier, ons het die huis leeggemaak en die sleutels vir 'n verhurings agentskap oorhandig, en ons het my Pa se 60ste verjaarsdag en aftrede gefier.

Die vlug terug na Oz toe was via Dubai, en ons is eers amper 23:00 uit Johannesburg uit want die vlug was so effens laat. Die kinders was toe al poegaai en Elmarie het al aan die slaap geraak voor ons op die vliegtuig geklim het, en Hannes het sommer vinnig op die vlug aan die slaap geraak. Ek en Marlize het darem ook so bietjie slaap ingekry op die eerste vlug.

Die oorstop in Dubai was geskeduleer om 1:40 te wees, maar met die vertraging in Johannesburg was dit bietjie korter, en ons het letterlik net afgeklim, die toilet gebruik, ingeboek vir die volgende vlug en weer opgeklim, en ons was sommer vinnig weer in die lug.

Die tweede vlug was baie lank - 13:30 en daarvan het ons amper niks geslaap nie. Agter ons het 'n redelike raserige klomp gesit (ook kinders vir wie die vlug te lank is) so ons het nie op daardie vlug geslaap nie. Die kinders het flieks gekyk en games gespeel en gereeld op en af van ons af geklim. Die laaste uur of so is hulle weer deur die moegheid oorval toe slaap hulle weer, maar ek en Marlize was nie so gelukkig nie.

Deur doeane het dit goed gegaan. Ons het laaste van die vliegtuig afgeklim, was so te se laaste deur paspoort beheer, en toe ons gaan tasse haal het die carousel al stilgestaan en net ons tasse was nog daarop. Dit is eintlik nogal bietjie beter as om tussen 'n warboel van mense te staan en jou tasse te probeer uitvis as dit verbykom.

Ek het recharge vouchers vir ons pre-paid selfone gekoop voor ek Suid Afrika toe gevlieg het so ons het reguit verby die Vodafone stalletjie in die lughawe geloop. Gelukkig was die eerste taxi wat verbygekom het 'n bussie en dit was lekker want hy kon al ons tasse lekker gemaklik inpas en ons het lekker baie sitplek gehad. Oppad huistoe probeer ek toe die vouchers laai op die fone maar dit wou nie werk nie. Ons dog toe dis 'n tydelike ding en sal sommer gou regkom, maar op die ou end kon ons eers omtrent 20:00 die aand regkom om die lugtyd gelaai te kry.

Ons het meeste van die dag wat ons arriveer het omgeslaap, elke nou en dan wakker geword, probeer lugtyd laai (onsuksesvol) en weer geslaap, tot omtrent 19:00. Toe klim ons almal in die nuwe kar en gaan kyk waar is die nuwe blyplek, en probeer lugtyd laai (onsuksesvol). Oppad huistoe het Marlize gese sy kom deur na die recharge nommer toe - dit was omtrent 20:00.

2 Januarie het ons weer geslaap tot amper middagete, toe gaan ons na die naaste trein stasie toe om bietjie trein te ry (wat Hannes bestel al bestel het toe ons van die lughawe af oppad huistoe was). Ons het afgery tot in Frankston en bietjie daar rondgeloop, die flieks gekry en "Bedtime Stories" gekyk. Toe is ons weer terug op die trein huistoe vir die aand.

3 Januarie het ons weer geslaap tot amper middagete, toe ry ek en die kinders om die kar vir die eerste keer te gaan laat was en gaan betaal toe sommer ook die uitstaande balans van die nuwe wasmasjien en tuimeldroeer. Toe ek uit die winkel weer by die kar kom was daar paar lelike krapmerke net bokant die regter agterdeur en die kar wat langs ons gestaan het toe ek parkeer het was nie meer daar nie. Duidelik het hulle iets in hulle kar gelaai en myne gekrap in die proses. Ek was baie hartseer. Die aand het ons gekuier en gebraai by Andre en Annelie, saam Floris en Marie. Dit was baie lekker en die kinders het ook baie lekker gespeel.

Vandag was 'n baie lekker dag (blykbaar die eerste lekker somersdag van middel Desember af). Ons was saam die kinders parkie toe met hulle balle wat ons vir hulle gekoop het toe hulle laas keer hier was (hulle het dit in die kas ontdek). Na middagete was ons met die trem strand toe. Ek en die kinders het lekker in die water baljaar. Daarna het ons bietjie in die son gesit en kaaskrulle eet, voor ons McDonalds toe was vir roomys.

Ek kan nie die fotos van die kamera aflaai vir die blog nie, want die laptop wat ek leen werk vir webmail maar het nie 'n gat vir die kamera se kaart nie - ek sal dit later oplaai wanneer die huis PC weer opgeslaan is.

As alles goed gaan kry ons die nuwe blyplek Saterdag 10 Januarie, en hopelik (ek dink dis bietjie optimisties) kom die huisraad op dieselfde dag. Die woonstel waar ons nou is hoef ons eers die volgende naweek te ontruim.

Dis baie lekker om weer in dieselfde tydzone te wees as die res van die gesin.

More begin ek weer werk.