Hierdie week Dinsdag was Melbourne Cup Day en die hele week was dit perde voor en perde agter. Lekker as mens hou van wed op die perde.
Dinsdag het ek bietjie gerus en bietjie rondgery. Ek wou strand toe gaan maar die wind het te veel gewaai, so ek was nie lank daar nie. Ek het darem 'n foto gekry van die "beach boxes" - ek dink ek moes bietjie nader aan die water gekom het om teen 'n ander hoek te neem maar dan kry mens nie die hele lot in nie, daar is te veel!

Hierdie naweek was lekker weer. Ek was lekker lank in die botaniese tuin gewees, sommer enige plek bietjie op 'n bankie gaan sit en luister vir die voels en net bietjie ontspan.
Op die punt van die tuin, eintlik net buitekant die grense van die tuin - in King's Domain, aan die stad se kant, is daar 'n "music bowl" met die groot geboue van die stad in die agtergrond. Dit is die Sidney Myer Music Bowl en is in 1959 geopen. Daar is 'n gedeelte stoele, en die res is gras teen 'n bult op - dit kan nogal lekker wees as die weer goed is!


Tussen die music bowl en die stad is daar 'n monument vir Queen Victoria - sy's gebore in 1819, getround in 1840 en het regeer van 1837 tot 1901 (sy's dood in 1901).

Hierdie is die queen se uitsig oor die stad:

Vandag was 'n lekker warm sonskyn dag. Ek was te warm aangetrek en het toe bietjie gaan afkoel in die Chill On ice bar.

Vir $30 kan jy vir 30 minute ingaan en dit sluit die warm klere en 1 cocktail in. Die drankie kom in 'n glas wat van ys gemaak is. Ek het die cocktail menu gelees en besluit om te vra vir 'n "frozen idot" - dis jegermeister en red bull.
Die plek is nie baie groot nie - dis amper of hulle jou in 'n groot freezer toemaak.

En jy kan sit ook - op 'n ys-stoeltjie (daar is darem 'n diervel oor sodat jou broek nie nat word nie), en jou ys-glasie op die ys-tafeltjie neersit.

Dis seker duidelik uit die fotos dat ek alleen in die vrieskas was.
Party mense gaan seker bietjie gril as ek dit se, maar as mens uit die lekker warm hittige straat uit in die vrieskas inloop, begin jou neus dadelik waterig raak, en voor jy kan keer vries daai waterige snot in jou neus. Dis die weirdste gevoel! En met daai dik handskoene aan kan jy maar vergeet om jou neus te probeer afvee sonder om dit uit te trek, en dan vries jou vingers want dis -10 (minus 10) grade celcius daar binne! Jy moet net keer dat jou neus nie te veel loop nie anders lyk jy sommer vinnig soos Jim Carey in Dumb & Dumber waar hulle op die scooter ry en vries...
Voor my 30 minute op was het ek heeltemal te koud gekry - my ore wou afval en my tong wou nie meer saamwerk nie - een van die ouens wat daar werk kom elke nou en dan in en gesels bietjie maar elke keer as hy uitgaan ontdooi sy tong, maar nie myne nie! Toe ek sukkel om te praat het ek besluit dis genoeg - 22 minute.
Toe ek daar uitloop in die warm straat in was dit nogal lekker om te voel hoe ontdooi my gesig velle so stadig - toe's dit gladnie meer so warm nie!