Sunday, August 31, 2008

Naweek21

Hierdie week was 'n stil week. Marlize en die kinders was Vrydag weer by die brandweer - hulle het elke Vrydag van die jaar 'n demonstrasie (ook 'n opvoedkundige sessie) waar hulle mense, en veral kinders, bewus maak van alles rondom wat die brandweer doen en veiligheid in en om die huis (spesifiek ten opsigte van brande). Hulle vertel van al die goeters wat in/op 'n brandweerwa is en die kinders kan in en op klouter ook. Tydens die demonstrasie gebruik hulle 'n regte brandweerwa en wys wat doen hulle as daar 'n brand is. Die kinders kry ook geleentheid om met die brandslang te spuit (met bystand van 'n opgeleide brandweerman natuurlik) en 'n sak vol goed (yskas magnete, penne, ballonne ens) wat alles die brandweer se telefoon nommer op het (000 hier in Australie). Hannes het die geleentheid benut, maar Elmarie wou niks weet nie.





Marlize-hulle was bietjie vroeg vir die demonstrasie en terwyl hulle gewag het, was daar 'n regte brand alarm toe kon hulle sien hoe reageer die brandweermanne en hoe jaag die lorries uit die brandweerstasie uit.

Vrydag aand was daar ook 'n brand alarm in die gebou waar ons bly. Toe gryp ons paspoorte en die laptop rekenaar en ontruim in die straat in. Nie gedink om die kamera ook te vat nie, so die fotos van die brandweerwaens was met die selfoon geneem...




Dit was 'n vals alarm. Ons kon nie glo ons doen die dril die aand net na die demonstrasie by die brandweer nie!

Saterdag oggend was ons eers bietjie parkie toe om bal te skop want die son het bietjie geskyn. Toe het Marlize kans gehad om bietjie alleen in die winkels te gaan loop, so sy was die grootste deel van die dag alleen uit. Ek het saam die kinders gesit en Disney Playhouse kanaal kyk. Vir ure lank het hulle my alles vertel van elkeen van die stories wat opgekom het. Toe Marlize laatmiddag terug kom wou ons ook nog bietjie rondloop toe is ons almal weer stad toe om net so bietjie in die strate te loop en McDonalds Happy Meals te eet (net die kinders, want dit het speelgoed by...).

Vandag was ons almal vir die laaste keer van die vakansie saam see toe, al was dit nie die beste weer nie. Dit was maar winderig en bietjie koud. Dit was tog lekker om bietjie op die strand te loop (daar was natuurlik nie baie mense op die strand nie) en die see te ruik. Ons wou bietjie na 'n duikboot wrak gaan kyk (het hom nooit opgespoor nie). Terwyl ons so langs die see afgestap het, het ons gesien daar's groot weer wat inkom oor die baai en begin toe solank skuiling soek. Eers het dit gehelp, maar die wind het so gewaai ons het onder die dak sopnat geword. (Die foto van ons onder die dak is voor ons begin natreen het.) Toe staan ons maar aan die kant van die gebou om uit die wind en reen te kom, todat die reen oorgewaai het. Met al die opwinding het Elmarie natuurlik bietjie moeg geraak, en toe ons haar begin dra het sy sommer aan die slaap geraak. Sy is al swaar. Toe begin soek ons maar die naaste trein stasie en net voor ons daar aankom word sy toe weer wakker. Net betyds om weer die treinrit huistoe te ervaar...




Dit was nou die laaste naweek met ons almal saam hier. Marlize en die kinders se 3-maande vakansie kom Vrydag tot 'n einde. Hulle vlug is Saterdag oggend 06:00.

Sunday, August 24, 2008

Naweek 20

Hierdie week was hopelik die laaste koue winter dae van die jaar. Die koudste dag van die week was Dinsdag, met baie reen, hael plek-plek en ysige wind. Van Woensdag af het dit al beter geraak, en vir die week wat voorle lyk die weervoorspelling belowend en vandag het ons verby paar bome geloop wat begin bot het.

In die week was Marlize met die kinders na twee interessante plekke toe - Chinatown en die Brandweer museum.

Chinatown...

Hier in Melbourne is daar ‘n gedeelte van een van die strate (Little Bourke street) wat hulle Chinatown noem. Die ontdekking van goud in 1851 het Chinese imigrante na Victoria toe aangetrek op groot skaal. Vandag is Chinatown ‘n baie gewilde toeriste aantreklikheid met baie eetplekke en top restaurante.

Chinatown se ingange word aangedui met 5 “arches” wat gerestoureer is tot hulle eertydse glorie (met bietjie moderne neon-ligte daarby) en die een wat ons afgeneem het is die ‘Facing Heaven Archway’. Hierdie “arch” is handgemaak in China volgens tradisionele tegnieke en met tradisionele materiale. Dit is hier na Melbourne verskeep in baie stukke en aanmekaar gesit.



Die “Melbourne Dai Loong Association's Millennium Dragon” word hier in Melbourne gebruik in die Chinese Lente Fees (Jan-Feb elke jaar) en in die Moomba Fees (March elke jaar). The Museum vertoon die laaste 3 professionele Chinese Drake wat in die parades gebruik is hier in die strate as ‘n tradisie van die teenwoordigheid van die Chinese gemeenskap hier in Melbourne. Hierdie draak is oor die 3 meter hoog en die Millennium draak is die grootste in die wereld. Die draak is ongeveer 100m lank, maar hulle vertoon net 60m van die draak in die museum.


Elmarie staan by ‘n terracotta ‘Chinese warrior’ wat aan hierdie museum geskenk is deur ‘n museum in China. By Elmarie is ook een van die baniere wat gebruik word in die parade in die strate saam met die ‘dragon’.


Brandweer museum...

Die museum is in die ou hoofkantoor van die Melbourne Brandweer Brigade (Melbourne Fire Brigade) en geopen in 1979 as ‘n huis vir die geskiedenis van die brandweerdienste in Victoria. The Museum bevat ‘n versameling van oor die 10,000 brandweerdiens relevante items wat versamel is beide nasionaal en internasionaal. Die museum is nie ‘n wins organisasie nie en die personeel is vrywilliges. Die meeste van die personeel by die museum is afgetrede brandweermanne. Hulle het vir die kinders ‘n ou almenak vol brandweerwa fotos gegee en Hannes was in sy element.



Hierdie foto is van die Melbourne brandweer se hoofkantoor in Melbourne - dis 'n groot mosaiek wat meer as 5 verdiepings hoog is. Dit bestaan uit meer as 1 miljoen glas mosaiek teels en het 1.5 jaar gevat om te voltooi (1982). Dit staan bekend as "The Legend of Fire".


Woensdag het die kinders ook poskaarte gestuur vir die mense by die huis om te vertel hoe lekker hou hulle vakansie in Australie.


Saterdag was ons almal Rialto Towers toe gewees. Dit was 'n lekker dag en mens kon lekker ver sien (nie soos laas keer toe ek hier was nie - sien Vyfde Naweek, 11 Mei). Die kinders het dit baie geniet om so hoog in die lug te wees en om met die verkykers te kyk (hulle kon nie self bykom nie so ons moes hulle al die tyd optel...).



Hier is ons met die Rialto Towers in die agtergrond. Die "viewing deck" is amper heel bo en reg rondom die gebou so mens kan 'n 360 grade view van Melbourne kry. Dis tans die tweede hoogste gebou in Melbourne (dit was lank die hoogste, maar nou is Eureka Sky Deck die hoogste, en die duurste!).


Ek het weer wakker gebly en gekyk hoe verloor die Bokke. Flip.

Vandag wou Marlize by die Arts Centre se sondag stalletjies gaan rondloop en ons was almal saam. Dis 'n groter mark as St Kilda Esplanade se Sondag mark. Ons het nie fotos van die stalletjies geneem nie, meeste stalletjies verbied die neem van fotos.




Nog net twee weke dan vlieg Marlize en die kinders terug SA toe...

Sunday, August 17, 2008

Naweek 19

Nog 'n koue nat winter week.

In die week het Marlize en die kinders darem weer bietjie rondloop kans gehad. Hulle was bietjie Southbank toe - dis 'n gedeelte langs die Yarra rivier, aan die suidekant van die rivier, die gedeelte regoor die middestad wat net anderkant die rivier begin. Daar het hulle so paar fotos geneem by Flinders Station, St Paul's Cathedral en nog so paar ander goed.



Gister het ek laat wakker gebly vir die Bokke se wedstryd teen die All Blacks... ek wil nie verder daaroor praat nie.

Die naweek se groot rondloop was vandag. Dit was 'n dag vol hoogtepunte.

Eers het ons met 'n ferry op die rivier gery - die kinders was baie opgewonde want hulle het nog nooit in 'n boot gery nie. Dit was baie koud - Elmarie het vinnig begin skuiling soek, maar Hannes was al die tyd by die water, en meeste van die tyd aan die agterkant van die boot waar die propeller die water lekker geroer het. Dit was 'n lekker lang bootrit van Southbank af tot by Williamstown.





In Williamstown het ons die HMAS Castlemaine besoek - 'n skip wat in die tweede wereld oorlog gedien het, en dis een van net twee van Australie se tweede wereld oorlog skepe wat nog behoue gebly het (die ander een is in Brisbane). Die skip word deur vrywilliges instand gehou. Daar is iemand wat mens die geskiedenis van die skip vertel en dan kan mens die hele skip verken, behalwe vir so paar areas wat oop is om in te kyk maar mens mag nie daar ingaan nie (bv. die kaptein se kwartiere en die enjinkamer ens).





Iets anders spesiaal in Williamstown is ook die Enterprize wat net een keer per maand seil en dit was toevallig vandag. Verder kan mens die skip "charter" maar dis vrek duur. Dis nogal baie mooi om te sien - ons het nie vandag geboek vir 'n rit nie, maar hy vat ook mense bietjie uit in die baai in sodat mens kan voel hoe dit voel om op 'n 19de eeuse seilboot te vaar.



Ons was in 'n lekkergoed winkel wat sommer "wow" was. Marlize wou ons afneem, toe bied die tannie wat die winkel behartig aan om ons almal sommer af te neem. Die kinders het baie gesukkel om elkeen net paar lekkergoedjies te kies. Ek ook!



Terug huistoe het ons die trein gevat en nie weer op die rivier gery nie (dit sou heeltemal te koud gewees het aan die einde van die dag). Ons was op die eerste stuk amper die enigste mense op die trein. Die Williamstown stasie is op die einde van 'n lyn en die trein stop dus, dan loop die kondukteur na die ander punt sodat die trein weer terug na die vorige stasies kan ry. Hy stop toe by ons en vra of ons saam met hom in die kajuit wil ry... cool! Ons het dit almal baie geniet (geen fotos, jammer!). Dit was net 'n kort stukkie (3 stasies) totdat ons moes afklim om op 'n ander lyn te kom, maar dit was baie lekker.

So dit was 'n eerste keer op 'n boot vir die kinders, eerste keer op 'n oorlogskip wat aktief in die oorlog gedien het vir ons almal, en die eerste keer saam die kondukteur in sy kajuit op die trein vir ons almal. Dit was 'n lekker dag.

Sunday, August 10, 2008

Naweek 18

Hierdie naweek is daar nie veel om te skryf nie. Dit was koue, winderige nat weer elke dag behalwe Woensdag - toe het Marlize en die kinders so bietjie rondgeloop. Die kinders kon darem bietjie buite speel.





Die hele naweek was net sulke deurmekaar weer, met reen elke nou en dan en yskoue wind wat waai. Ons het maar bietjie in die winkels rondgeloop vir die lekker.

Die weer vooruitsigte vir Melbourne vir die res van die maand lyk baie koud en nat, so ek het 'n groot sambreel gaan koop sodat ek nie te nat word tussen die trem en die huis/kantoor nie.

Vanaand het Elmarie gehuil en gekla van oorpyn. Ons het kinder Panadol (soos Panado) gegee maar dit het nie gelyk of dit wil help nie, toe klim ons maar die trem na die naaste hospitaal toe (Albert Hospital). Daar gekom vertel hulle dat hulle alles doen behalwe obstetrie en pediatrie, en verwys ons toe na die Royal Children's Hospital. Ons vat toe 'n taxi daarheen want ons weet nie waar dit is nie. Hannes het gedink dis 'n cool avontuur om in 'n regte geel taxi te ry en toe raak hy in die taxi aan die slaap! Teen die tyd wat die dokter vir Elmarie daar by die kinder hospitaal gesien het, lyk dit toe weer of sy niks makeer nie.

Ons het eers omtrent 22:00 weer by die huis gekom. Elmarie was al aan die slaap en wou niks weet van nog 'n happie medisyne nie, maar Hannes het nog eers sy eie pajamas aangetrek voor hy gaan slaap het.

Ons is almal pootuit. Hou duime vas dat die week wat voorle goeie gesondheid inhou!

Sunday, August 3, 2008

Naweek 17

Hierdie week se weer was weer op en af. Paar dae was so koud en nat dat Marlize en die kinders nie eers uit die woonstel was nie - gelukkig is daar nou Foxtel (soos DStv) so die kinders het darem bietjie afleiding gehad.

Dinsdag was Marlize met die kinders by Elsternwick Park. Daar is 'n publieke golfbaan en twee speelparke. Hulle het nie gaan golf speel nie, maar het die twee speelparke darem baie geniet. Die speelparke is in 2002 geopen. In die parkie het hulle iemand teegekom wat met 'n radar vliegtuig gespeel het en dit was vir die kinders groot vermaak. Hier is so paar fotos van die parkie:







Woensdag het Marlize en die kinders by Marie gaan kuier. Die kinders het die kuier vreeslik geniet (saam met Emma) en Marie se vars gebakte skons was 'n treffer. Dankie Marie.

Vrydag was een van die slegte weer dae - die wind het verskriklik hard gewaai en dit het gereen.


Die kinders het ruimtetuie gemaak met toilet rolle en melk houertjies. In die hotel het ons daagliks "single-serving" melk houertjies gekry en Marlize het klomp van hulle gewas en gebere nadat ons die melk gebruik het - nou het hulle 'n goeie 'kuns' doel gedien.




Saterdag het ons min gedoen - bietjie inkopies, bietjie in die winkels geloop, en ek en Hannes het ons hare laat sny. Dit het so paar keer gereen en weer opgehou.

Vandag was ons by die Scienceworks museum in Melbourne. Dit is 'n wetenskaplike museum vir jonk en oud en die kinders (en grootmense) kan karring aan alles - draai en druk die knoppe, loer deur die teleskope, stel die apparate, alles lekker interaktiewe leersame wetenskaplike vermaak. Daar is verskeie afdelings met wetenskap aktiwiteite waaronder 'n 'Sport' afdeling. Die kinders kon resies hardloop teen 'n kortafstand '2000 Olimpiese Spele Goue Medalje wenner' atleet 'Cathy Freeman'. Die kinders se spoed word gemeet by die eindpunt en dan kan 'n mens sien hoe jy gevaar het teen hierdie bobaas atleet. Dit het ook vir uiterste groot vermaak gesorg, bo en behalwe al die ander interessanthede.

By die Museum is die Melbourne Planetarium. Dit is nie 'n regte planetarium in die ware sin van die woord nie, want dit is 'n 16m koepel dak met 'n video projeksie sisteem wat die hemelruim uitbeeld. Daar is heerlike stoele soortgelyk aan cinema stoele, maar 'n mens kan plat le in hierdie planetarium stoele sodat jy die koepel dak (hemelruim met al sy sterretjies) mooi kan sien. Ons het na 'n animasie vertoning daar gekyk oor 'n hond met die naam 'Tycho' wat die hemelruim besoek het. Ons kon die aarde sien vanuit die hemelruim, die maan soos wat ons nader vlieg en toe het ons geland op die maan. Vandaar het ons 'n draai by die son gaan maak - nie te naby nie, want dit was te warm. Dit was 'n ervaring en 'n half vir die kinders. Daarna het die oom van die planetarium vir ons bietjie die hemelruim oor Melbourne in die nag gewys en 'n hele paar van die sterre-konstelasies en planete uitgewys.

Toe het ons aangeskuif na die Weerligkamer toe. In hierdie vertoning het hulle vir ons geleer van statiese elektrisiteit, waar die verskillende kleure in vuurwerke vandaan kom en hulle het ook 'n weerlig geskep deur van 'n 'Tesla Coil' gebruik te maak. Hierdie 'Tesla Coil' is in staat daartoe om 2 miljoen volts elekstrisiteit te produseer wat 3 meter lange weerligstrale skep. Dit was definitief die hoogtepunt van die vertoning.

Ons het 'n vinnige draai gemaak in die historiese Spotswood 'Pumping Station' en was toe weer terug museum toe om al die gratis uitstallings te besigting en uit te toets. Die 'Imagination Factory' en 'Nitty Gritty City' het vir die laaste vermaak vir die dag gesorg en toe sluit die museum. Ewe skielik was dit 16:30! Ons was van die laaste besoekers by die deur uit. Voorwaar 'n leersame interessante dag.

Hier is paar fotos. Hoop julle geniet die internet-ervaring net soos ons die plek geniet het...! Jammer julle was nie daar nie!