Sunday, May 4, 2008

Vierde Naweek

Ek kan amper nie glo ek is al 'n maand lank in Australië nie.

Hierdie Saterdag het ek die publieke transport gebruik om by van die groot shopping malls te probeer uitkom. Bietjie van 'n mission as mens nie 'n goeie kaart het nie, so toe koop ek een.

Die mall wat ek eerste opgesoek het was na die suidekant in Bayside - Southland Shoppingtown. Met 'n kar is dit maklik, mens ry letterlik net in St Kilda Road (waar die hotel is) suid en bly op dieselfde pad. Dit word die Nepean Highway en die loop uitendelik reg by die mall verby. Eerste belangrike ding is dat daar 'n verskil tussen 'n highway en 'n freeway is. Freeway is soos wat ons die N1 en N3 ken. Highway is net klomp bane, maar die spoedgrens is steeds 60km/h, en minder verkeersligte as in ander paaie. Nietemin, met 'n kar is dit baie makliker en vinniger.

Met publieke transport is daar 'n keuse van hier af - die trein tot naby en dan 'n bus, of 'n trem tot waar die tremlyn ophou en dan 'n bus. Dis wanneer daar nie "track works" is en die laaste deel van die trein diens met busse vervang is nie (soos Saterdag). Normaalweg sou dit makliker gewees het as Saterdag...

Die trein vat my toe net halfpad. Van daar af is daar toe 'n bus, maar die bus het ook deur die woonbuurte gery deur sy normale roete. Die trippie was toe baie langer as wat dit moes gewees het. Uiteindelik stop die bus in die onderdak parkade van die mall. Southland is nogal groot, sit weerskante van die Nepean Highway (met 'n oorbrug oor die pad sodat jy altwee kante kan shop) en gee mens nogal 'n Menlyn Mall-gevoel. Dis 3 vlakke maar dis kleiner as Menlyn Mall.

Ek het so bietjie daar rondgeloop en uiteindelik die 4:30nm vertoning van Iron Man by die flieks gekyk. uit die fliek uitgekom (6:45nm) was die mall toe! Die middelste dele was alles afgeskort en die ligte af! Ek moes toe 'n alternatiewe roete vind om weer terug by die bus terminaal te kom, buite om die maal in die straat af! Terwyl ek vir die bus wag sien ek toe die mall ure is Maandag tot Woensdag tot 5:30nm, Donderdag tot Vrydag tot 9nm, en Saterdae en Sondae net tot 5nm. Bygesê dis in 'n "suburb".

Van die mall af was dit weer 'n bus trippie tot by die naaste trein stasie. Daardie spesifieke lyn loop nie tot naby my hotel nie (soos die een wat ek gebruik het oppad mall toe) maar tot reg in die middestad. Van daar af is daar klomp trems wat verby die hotel loop.

Soms is dit baie makliker en beter om die publieke transport te gebruik, en soms is 'n kar 'n baie beter opsie.

Sondag is ek tronk toe...

"Old Melbourne Gaol" was eerste geopen in 1842 en uiteindelik gesluit in 1929. Die selblok is nou nog oop as 'n toeriste-aantreklikheid. Die selle was nogal baie klein (lyk soos ongeveer 2x2.5m). Merchandise wat daar te koop is, is vrek duur - ek het toe niks gekoop nie.

Hierdie fotos is van die buitekant af (ingang en selblok buite):







Hierdie foto is van die selblok aan die binnekant - daar is 3 vlakke:



Twee fotos van die selle - die onderste vlak se deure maak buitekant toe oop, maar die 2de en 3de vlakke maak na binnekant toe oop:





Een van die groot berugtes wat hier in die tronk was, en in die tronk gehang was, was Ned Kelly. Hierdie is die galg wat hulle binne die tronk gebruik het om die moordenaars te hang:



Mens se kaartjie sluit ook 'n toer deur die "Police Watch House" in. Dis basies die hou-selle waar mense wat gearresteer was gehou was totdat hulle sake voorgekom het. Soms net 'n aand, soms langer as 'n maand. Die hou-selle was in 1913 die eerste keer in gebruik geneem en uiteindelik in 1994 toegemaak. Nie baie lank terug nie.

Sommige fotos van die hou-selle mag sensitiewe kykers ontstel...

As deel van die toer behandel die sersant aan diens jou nogal soos 'n krimineel sodat jy 'n gevoel kan kry van hoe dit regtig daar gegaan het - dit word voor die tyd verduidelik sodat mense nie te veel aanstoot neem nie. Hulle beveel aan dat kinders onder 15 nie die toer meemaak nie, en kinders onder 18 moet deur volwassenes vergesel word. Hulle het ook 'n luidspreker stelsel wat (blykbaar) tipiese geluide speel wat daagliks daar te hore was, bv. mense wat besig is om histeries te raak, ander wat skree op die wagte ens.

Eerste fase is die aanklag kantoor. Elkeen kry 'n "aanklag kaart" waarop fiktiewe inligting is van wie jy is, waarvoor jy in hegtenis geneem is ens. Een van die mense word dan gebruik om die inboek-proses te demonstreer - ondervraging, mugshots ens. Tweede is die deursoeking - hulle deursoek darem nie die mense nie maar vra uit oor enige iets wat hulle normaalweg sal konfiskeer. Dan deel hulle die groep op volgens een van die items op jou aangklag kaart en dan beland jy binne 'n hou-sel en die deur word toegemaak. Na so rukkie roep hy uit "lights out!" en die ligte gaan dood. Dis koud en donker. Daar is nie matrasse en komberse nie. Na 'n rukkie kom die ligte weer aan en die deure word oopgemaak. Dis die einde van die "demonstrasie". Dis nogal iets anders...

Nadat almal weer uitgelaat is, vertel die toergids meer van die plek en gee mense geleentheid om fotos te neem. Hier is die fotos wat ek geneem het...

Die binnekant van die hou-selle:



Die binnekant van een van die hou-selle:









Die "oefen-area" vir mans (waar hulle deur die dag mag wees, in die aand is dit terug in die selle in - dis maar 'n klein area):



Die "oefen-area" vir die vrouens (die muur aan die linkerkant is nog van die oorspronklike mure van 1913):



Dis die einde van die toer (ongeveer 30 minute lank) en oppad uit is daar baie inligting teen die muur op oor berugtes wat daar in die hou-selle was.

Na die tronk het ek verder in die stad rondgeloop en vir die eerste keer by Melbourne Central Station ingegaan. Die stasie self is ondergrond, en op daardie vlak is daar onder andere 'n Coles (soos 'n Pick-n-Pay by ons) wat eers middernag toemaak op enige dag behalwe publieke vakansiedae. Tussen al die ander vlakke (ek dink daar is nog 6) is daar baie eetplekke en nog meer winkels. Dis 'n mall in die stad. Met flieks, 'n hotel, 10-pin bowling, pool tafels, 'n kroeg,
intenet café en nog winkels.

Ek was vir die eerste keer in 'n MEYR - dis 'n winkel wat alles verkoop behalwe sport toerusting. Hulle beslaan basies 2 stads-blokke - een is 6 vlakke en een is 5. Waar ek rondgeloop het is daar tasse, klere (verskillende afdelings vir mans, vrouens, skoene, ens.), kombuis breekgoed, kombuis elektriese toerusting, groot elektriese toerusting (yskaste, wasmasjiene ens.), meubels (sitkamer, slaapkamer, ens.), skryfbehoeftes, verjaarsdag kaartjies, speelgoed, beddegoed, tot selfs kos. Ek was nie eers in die tweede gebou in nie! Dis groot - dis net een winkel!

Vandag was ook 'n lekker helder dag en ek het hierdie foto uit die hotelkamer geneem:



In die voorgrond is die Albert Park en op die horison is die see - eintlik Port Phillip (vir die wat 'n kaart het wat genoeg detail het, Melbourne stad is aan die noord-oostekant van Port Phillip, en St Kilda Road loop suid van daar af).

2 comments:

cobus said...

Het jy al uitgevind wat dit kos om huis te huur? En wat is tipiese salarise vir jou beroep? En belangrik, wat is die persoonlike belasting koers?

Terry said...

I too found the Vic market much hyped but pointless.

However there is an ice bar in one of the streets of the city near the gaol, it is fairly expensive but it is a touristy thing. Make sure you wait until later on Fridays or Saturdays - when I went there was nobody else there.

And the tour of the MCG takes long, with lots of walking. Be prepared!