Monday, April 7, 2008

Die eerste vlugte

Die eerste vlugte na Australië was nie sleg nie. Vertrek uit SA was Saterdag 5 April 2008 om 15:55. Dankie Thys en Maxie dat julle die taxie was! Dit het baie gehelp.

Die eerste deel van die vlug was op 'n Airbus (kan nie die model onthou nie) van SAL. Die vlug tot in Perth was 9 ure. Die oorstop op Perth lughawe was 4 ure (net 1 uur te lank) en daarna was die vlug na Melbourne op 'n Boeing 747 van Quantas. Die vlug tot in Melbourne was 3 ure.

Op Perth moes ek my bagasie kry en weer inboek vir die vlug na Melbourne want dis 'n plaaslike vlug. Gelukkig het dit nie gereën nie want die internasionale en plaaslike terminale is 'n ent uitmekaar verwyder en ons moes die tasse in die busse se sleepwa inlaai en aflaai in die middel van die parkeer areas. Volgende keer sal ek 'n klein sambreeltjie in my hand-bagasie moet inpak.

Ons het 6:30nm Melbourne tyd (GMT+10) geland op Melbourne lughawe. Toe was daar 'n oponthoud met die bagasie, want daar was 2 ander vlugte sin ook op dieselfde carousel. Perth-Melbourne se bagasie was duidelik laaste aan die beurt. Gevolglik het ek amper die bussie gemis wat my na die hotel moes vat. Ek het dit voor die tyd geboek en sou my geld verloor ($18). Gelukkig was daar 4 mense op dieselfde vlug wat ook op die bussie geboek was, so die drywer het maar gewag.

Die bussie het 'n roete deur die stad gery (een van die snelweë) en dit was nogal mooi om te sien in die aand. Die bussie het my voor die hotel afgelaai, maar aan die oorkant van die pad. Ek moet toe met die bagasie oor die 6 bane (en 2 trem bane) loop. Gelukkig het dit nie gereën nie (ek het mos nie 'n sambreel gehad nie).

Inteken by die hotel was sommer vinnig en die kamer is nie sleg nie. (Vir fotos, sien die stuk genaamd "waar ek bly".)

Na die afpak was ek effens honger. Die hotel se eetplek is net in die oggende oop vir ontbyt, en op Vrydae aande vir etes en drinkers. Dit was Sondag so ek moes gaan kos soek. Ek besluit toe om dit eerder te los en te slaap want tussen die wag op Johannesburg lughawe, 2 vlugte en die oorstop in Perth het ek altesaam 5 keer geëet. Bed-tyd was to ongeveer 11:15nm.

No comments: