Sunday, July 6, 2008

Naweek 13

Hierdie week het ons meeste van die tyd mislike weer gehad - ysige wind en so bietjie Kaapse reen van tyd tot tyd. Daar was darem oomblikke van sonskyn en minder wind ook, so Marlize kon darem die kinders bietjie uit die hotelkamer uitvat. Hierdie week is nog twee nuwe parke in die onmiddelike omgewing verken.

Dinsdag was Marlize weer met die kinders by die Art Play park in die stad net agter Federation Square. Daar is 'n klim-muur vir kinders wat Hannes nogal geniet het.


Daarna was Alma Park aan die beurt. Die park is net suid-oos van waar ons woon en het 'n speelpark, toiletgeriewe en braaigeriewe. Daar is 'n lekker boomhuis en 'n klimraam wat gebou is binne-in en rondom 'n groot slak. Daar is ook 'n kasteel vir die kleiner kindertjies, so paar swaaie en ander goed om op te ry. Hier is so paar fotos van die speelpark:






Die hotelkamer het nie 'n oond nie so ons kan nie koek bak nie, maar ons het 'n resep gekry vir koek-in-n-koppie (dankie Bonnie) wat mens sommer in die mikrogolf oond maak in vyf minute. Dit was lekker pret, veral vir die kinders.

Die bestanddele:


Die resultaat:


Donderdag was Marlize met die kinders Fawkner Park toe. Die park is net noord-oos van waar ons woon en het 'n speelpark, toiletgeriewe en braaigeriewe. Die park het ook sport geriewe.




Vrydag was hulle sommer weer bietjie in Albert park. Dis net 'n blok en 'n half noord-wes van waar ons woon.


Vir die langtermyn visa moet ek mos deur 'n Ozzie werkgewer betaal word en ek benodig dus 'n Ozzie bankrekening, so Saterdag het ons gaan Ozzie bankrekening oopmaak. Ek kan nie eers onthou hoe het dit gewerk toe ek my bankrekening in SA oopgemaak het nie, maar hier sit jy saam die bank se konsultant terwyl alles gebeur - hulle doen die hele ding terwyl mens daar sit, en jy kan alles sien wat hulle op die skerm doen. Wanneer jy klaar is, is die rekening aktief en jy kan hom dadelik begin gebruik. Dit vat 'n uur of langer, afhangend van wat jy alles wil doen en die vrae wat jy het, so die kinders moes nogal lank stilsit in die bank. Dit het vir hulle bietjie lank begin raak maar hulle het hulleself baie goed gedra.

Na die bank-oefening het ons Collingwood Children's Farm gaan besoek. Oppad na die trem toe wat ons moes vang stasie toe sodat ons die trein kan ry, het ons in Bourke straat in die stad paar interessante goed gesien...

'n Graniet beursie (blykbaar 'n bankie, maar mens kan nie lank op hom sit nie):


'n Vrou wat lyk soos 'n standbeeld - sy beweeg baie stadig so as jy te vinnig verbyloop besef jy dit nie. Die emmertjie voor haar is vir donasies. Elmarie noem haar die feetjie:


Drie koper mannetjies wat lyk of hulle in die ry staan en wag om oor die straat te loop by die voet oorgang:


Nog twee koetse wat jy kan huur - dis nogal baie duur, maar dit lyk lekker. Daar is heelwat van hulle in die stad, meestal te vinde in Swanston straat. Elkeen lyk natuurlik anders en die twee perde is altyd dieselfde kleur (dus twee wittes of twee swartes ens):



Toe met die trein uit Collingwood Children's Farm toe. Die plaas is eintlik klein, maar net groot genoeg vir kinders. Daar is heelwat te sien, van groente tuine tot wurmplase tot bokke, skape, varke, beeste, perde, eende en hoenders. Die plaas het ook 'n klein restaurant wat ontbyt en middagete aanbied, en enige iets tussenin. Lees meer oor die plaas op hulle webtuiste.

Die koeie het eerste aandag getrek:


Een van die hoogtepunte vir die kinders was om die perde te voer. Ons het bietjie laat besef dat ons 'n ander partytjie gestoomroller het met hierdie aktiwiteit toe almal op dieselfde tyd aanskuif om die hoenders te gaan voer, toe kies ons maar 'n ander rigting.




Hulle het ook die lammetjies en ganse geniet:



Die ander hoogtepunt was om te sien hoe die koei gemelk word. Die boer verduidelik so bietjie van koei melk, wat om te doen en nie te doen nie, waar om te staan en nie te staan nie, dan kan al die maatjies 'n beurt kry om bietjie die koei te melk. Fotos neem hier was natuurlik bietjie moeilik want almal wil 'n beurt he! Hannes en Elmarie het ook die koei gemelk:




En vandag was sommer weer 'n stil dag tuis.

No comments: